Monday, January 7

Nog moskee foto's

Nog so 'n paar van die foto's van die Sheikh Zayed moskee. Gister het ek julle vertel dat hulle beraamde koste vir die moskee $500 miljoen was in 2004. Ek lees dat begin verlede jaar die beraamde koste verander het na $700 miljoen. Sjoe dis klomp geld, maar as julle na die foto's kyk, sal julle sien dat geen koste ontsien is om hierdie moskee iets besonders te maak nie.
Van die deure in die moskeeDis wat mens sien as jy in die groot hoofmoskee instap. In hierdie saal kan 5000 mense bid. (Neem in ag dat hulle elkeen 'n oefening area rondom hulle moet hê vir die afbuk ens.)Is dit nie indrukwekkend nie? Daar is 7 van hulle in die moskee en is vir 'n bedrag van rondom Dhs30 miljoen aangekoop. Kyk net die afwerking van die koepels.Orals is daar sulke vier pilare met sitplekke en plek waar hulle hul Quran kan lees.

Teen een van die mure is daar ook 'n horlosie met die bidtye op.

Ek vermoed dis die plek waar die imran van "preek" met die trappe na nerens (of is dit die verhogie?)

Hierdie tapyt in die binnekant van die moskee is maklik so groot soos 2 rugbyvelde. Die mat is in Iran geweef deur 1200 Iranese vroue. Dit het ook in die omgewing van Dhs30 miljoen gekos (Kyk bietjie by http://tussen-die-duine.blogspot.com/2007/08/nuus-uit-die-dorpie-alweer-die-grootste.html waar ek klomp inligting oor die mat deurgegee het.

Sheikh Niel en Sheikha Charmaine binne die moskee. Ons moes alles toemaak voordat ons in die moskee kon gaan en natuurlik ons skoene ook uittrek
Net 'n bietjie besoekers so daar is nie baie skoene voor die deur nie. Die pilare se blompatrone van verskillende soorte stene gemaak is, kan mens mooi hier sien. Die span wat dit gedoen het, is van Indie en hulle het ook werk by die Taj Mahal en selfs Buckingham paleis gedoen.
Hier kan mens nog van hulle werk sien.

In die binnehof is die werkers nog ernstig besig om aan die marmervloere te werk. Daar is 1048 pilare rondom die binnehof. Niel en Charmaine verkyk hulle aan alles.

Op die regtekant sien julle een van die vier minarette wat elke 107 meter hoog is. Daar is altesaam 82 koepels deel van die moskee

Hierdie moskee is die derde grootste ter wêreld, en kan 40 000 mense akkommodeer. Wanneer die werk en tuine klaar is, gaan die plek nog baie meer indrukkend vertoon.

Mooi bord wat die kontrakteurs by die moskee op het ... iets wat ek graag vir al ons dorpe en stede by die huis, vir die nuwe jaar wil toewens.

No comments: